Tuesday, August 27, 2013

Om goed te doen

Daar is niks beter in die lewe as om goed te doen nie. Ek dink Salomo se dit die heel beste: terwyl ons nog lewe kom ons doen goed. Die dood is so finaal! As ons gesterwe het is daar nie meer geleentheid om goed te doen nie. Hierdie lewe is ons geleentheid. Ons moet die kans nou anngryp! Nie net om goed te doen nie maar ook om maksimaal uit hierdie lewe te put. Dit wat jou hand vind om te doen, doen dit. Gryp elke geleentheid aan. Probeer nuwe dinge. Verken nuwe grense. Dit is ons geleentheid nou om dit te doen.

Prediker 3:12 So het ek dan ingesien dat daar niks beters onder hulle is nie as om bly te wees en om goed te doen in die lewe.

Gryp die lewe aan.

Monday, August 12, 2013

‘n Kind wat lekkers gekry het.


Laas nag droom ek - en soos meeste van die tyd onthou ek slegs ‘n baie klein deel van die droom – kom ek vertel. Ek droom ek en my vrou stap langs ‘n grondpad en ek sien ‘n R1 op die grond le en tel dit op baie bly omdat ek vir my en haar lekkers daarmee kan koop. Ek voel soos ‘n skoolseun wat geld het vir snoepie. Soos ek verder stap sien ek al meer en meer geld orals rondle en ek begin dit optel. Dit is R1’e en R2’e ens. – nie honderde nie, maar dit maak my steeds bly. Hoe meer geld ek optel hoe meer lekkers sal ek vir haar en my kan koop. Ek kon my geluk nie glo nie: ek tel so baie kleingeld op wat ander mense nie raakgesien het nie.

Ek dink partymaal moet ons die R1 en R2 van die lewe waardeer. Dit bring ons daardie klein gelukkies wat ons baie maal van vergeet. Partymaal gaan dit nie eers oor die geld nie maar oor die klein dingetjies in die lewe wat ons gelukkig maak. Dit is nie die groot vakansies of die spesiale kuiertjies of byeenkomste wat altyd saakmaak nie -  partymaal is dit die saam lag saam met kinders, laat slaap oor die naweek, rustig luister na die val van reen op die huis dak en al die ander klein dingetjies wat ons so maklik aanvaar as net normaal.

Wat is die klein dingetjies wat vir my vandag opwinding gaan bring?

Wednesday, August 7, 2013

Die Rigters,


Daar was ‘n tyd in die geskiedenis van die volk – nog voordat hulle ‘n koning gehad het – dat God hulle gelei het met Rigters. Ek se vir my kinders dat die werk van die rigters was om rigting aan te wys vir die volk van Israel. Interessant was dat die Rigters nie eerstens deur die mense gekies was nie, dat hulle nie spesiale opleiding gehad het nie en dat hulle almal nie dieselfde karakter eienskappe gehad het nie. Die Rigter was deur God gekies met die karakter eienskappe wat hy gehad het spesifiek vir die omstandighede waarin die volk was en om die volk te help verlos uit die hand van die vyande.

Ek glo in vandag se tyd kort ons ook nog die werk van die Rigter: iemand wat ons kan help om die regte besluite te maak, wat ons die regte rigting kan wys om te gaan. Hierdeur se ek nie dat ons nie direk na God kan gaan om ons rigting te wys nie dit klink net heelwat makliker as iemand vir jou die rigting kan wys.

Partymaal is ons die rigtingwysers vir hierdie wereld en partymaal wys ons vir mekaar die rigting wat ons moet gaan. En dit is nie altyd die gelowiges wat ons rigting wys nie - partymaal moet ons luister na die kinders, die armes en die behoeftiges – hulle gaan ons dwing om iets te doen waarvoor ons nie eers ‘n stem nodig het om vir ons te se om te doen nie – om reg te doen aan hulle wat dit die nodigste het.

Tuesday, August 6, 2013

‘n Goeie en regverdige man.

Ek lees in die Bybel waar dit sekere manne noem "goed"en "regverdig". Ek wonder of daar in vandag se tyd nog sulke mense is wat genoem kan word goed en regverdig. In my beroep word daar van ‘n mens geeis om baie eties te wees. So ook word daar in baie ander beroepe verwag dat die mense wat die bedryf beoefen baie eties moet wees. Die probleem egter is waar trek ons die lyn van wat eties is en wat nie eties is nie. ‘n Vriend van my se "vir my is dit net swart of wit, reg of verkeerd", tog voel dit vir my of daar ‘n grys area is met verkeie skakerings en dieptes van grys. Dit blyk of dit praktyk is in vandag se samelewing om die lyn van reg self te bepaal en dan die lyn te beweeg soos dit jou pas. En ja wie kan die eerste klip gooi? Ons almal het mos die spalk in ons oog! Ons kyk verby die verkeerd en bring ‘n nuwe konsep van reg…die idee dat daar in almal die slegte sowel as die goeie teenwoordig is - en dat die mens oorwegend goed is. Die nuwe teorie klink baie belowend en kan tog ‘n mate van waarheid bevat, tog weet ek van manne wat mens kan noem goed en regverdig. As ek na myself kyk sien ek te veel areas van grys en weet ek dat daar aan myself gewerk sal moet word.

Here leer ons om te wees: "Goed"en "Regverdig".