Monday, August 12, 2013

‘n Kind wat lekkers gekry het.


Laas nag droom ek - en soos meeste van die tyd onthou ek slegs ‘n baie klein deel van die droom – kom ek vertel. Ek droom ek en my vrou stap langs ‘n grondpad en ek sien ‘n R1 op die grond le en tel dit op baie bly omdat ek vir my en haar lekkers daarmee kan koop. Ek voel soos ‘n skoolseun wat geld het vir snoepie. Soos ek verder stap sien ek al meer en meer geld orals rondle en ek begin dit optel. Dit is R1’e en R2’e ens. – nie honderde nie, maar dit maak my steeds bly. Hoe meer geld ek optel hoe meer lekkers sal ek vir haar en my kan koop. Ek kon my geluk nie glo nie: ek tel so baie kleingeld op wat ander mense nie raakgesien het nie.

Ek dink partymaal moet ons die R1 en R2 van die lewe waardeer. Dit bring ons daardie klein gelukkies wat ons baie maal van vergeet. Partymaal gaan dit nie eers oor die geld nie maar oor die klein dingetjies in die lewe wat ons gelukkig maak. Dit is nie die groot vakansies of die spesiale kuiertjies of byeenkomste wat altyd saakmaak nie -  partymaal is dit die saam lag saam met kinders, laat slaap oor die naweek, rustig luister na die val van reen op die huis dak en al die ander klein dingetjies wat ons so maklik aanvaar as net normaal.

Wat is die klein dingetjies wat vir my vandag opwinding gaan bring?

No comments:

Post a Comment